Vandag is Valentysdag en ek is amper 3 dae laat. Om `n swangerskaptoets te doen en dis negatief - of mens nou vir een maand of 5 jaar probeer - is baie teleurstellend. Ons pad is nog nie so lank nie, maar die paar kere wat ek moes wag vir twee strepies het my geruk... en daarom was ek maar skrikkerig om weer opgewonde te raak.
Maar hierdie keer het ek anders gevoel. Ek het geen maagkrampe gehad, soos gewoonlik kom daai tyd van die maand nie, maar my borste was seer. En die onsekerheid het my aan die keel beet gehad. So terwyl Louis die oggend vinnig na sy ouers gery het om iets af te laai, is ek Faerie Glen Apteek toe. Ek't sommer `n ou goedkoop R12 toetsie hierdie keer gekry (eintlik 6 van hulle vir die toekoms ook) en een duur Clear Blue vir as die cheapie se positief.
By die huis was dit dadelik badkamer toe en binne `n paar sekondes sien ek nie net een nie, maar twee lyntjies verskyn. Ek kon dit nie glo nie! Al wat ek kon doen is huil en hardop die Here bedank vir hierdie wonderlike geskenk van liefde op die liefdesdag.
Ek het klaar gemaak en probeer rustig bly terwyl ek vir Louis gewag het, maar binne my het ek gebars van opgewondenheid. Louis het uiteindelik tuis gekom, en ek het heeltemal kalm gebly terwyl hy klaar gemaak het vir ons aand.
Net voordat ons moes vertrek het ek die kamera opgestel sodat ons `n video kon maak van die geskenke oopmaak. Louis het niks verwag nie want ek maak videos van alles.
Ek het eerste my pragtige geskenke oopgemaak. Daarna het ek al sy geskenke - wat ek reeds `n maand te vore gekoop het toe ek gedink het ek was swanger, maar nie was nie - in `n groot boks vir hom gegee. Dit was alles baba items met `n visvang tema.
Hy het niks verwag nie, maar gewonder hoekom hy net baba items kry. Die laaste boksie wat hy oopgemaak het was die twee swangerskaptoetse. Sy reaksie kan gesien word op TikTok en YouTube.
Comments