Ons het vandag na Pappa se nuwe boot gaan kyk by Oupa Johan en Ouma Elize se huis. Dis die eerste keer wat ek die boot van naby af sien, maar omdat ek nie lank kan staan nie het ek op die stoep gesit terwyl Pappa alles vir my verduidelik het. En wat sien ek toe?
BABA SE HART KLOP!
Daar gebeur werklik iets wonderbaarlik as jy voel hoe jou baba draai, hik en dans in jou baarmoeder. Dit is een van die mees surrealistiese ervarings wat jy kan beleef. Ek kan ure spandeer om net my maag vas te hou en my te probeer indink waarmee Baba besig is. Ek het al gedink dat ek miskien die klein polsslae van Baba se vlinderagtige hartklop kan voel, maar om dit te sien was `n hele nuwe, ongelooflike ervaring.
Volgens kenners kan die bewegings slegs Baba wees wat hik, maar dis maklik om te onderskei tussen hik en hartklop. Dan sê hulle ook dit kan Mamma se abdominale aorta wees wat klop, maar `n ma weet. Pappa en Ouma Elize het dit ook gesien en was net so verbaas.
Een van die dae is die hartklop in lewende lywe hier!
Comments